Afrikaans 100: DIE TAALMONUMENT BY BURGERSDORP EN DIE ANGLO-BOEREOORLOG IN DIE AFRIKAANSE WOORDESKAT

Afrikaans 100: DIE TAALMONUMENT BY BURGERSDORP EN DIE ANGLO-BOEREOORLOG IN DIE AFRIKAANSE WOORDESKAT

♥ Afrikaans vier 100 jaar! ♥

Afrikaans en die Anglo-Boereoorlog:

 

Burgersdorp met Kerkplein waar die        Taalmonument later opgerig was, c.a. 1900

 

BURGERSDORP AAN DIE VOORPUNT OM NEDERLANDS AS AMPTELIKE TAAL IN DIE KAAPKOLONIE ERKEN TE KRY

Met die tweede Britse besetting van die Kaap in 1806 het Engels, Nederlands as  amptelike taal vervang – dit ten spyte daarvan dat Nederlands op daardie stadium een van die mees algemene tale was wat toe in die Kaapkolonie gepraat is. Engels as taalmedium was in 1854 verder bevorder tydens die toekenning van Verteenwoordigende Bestuur aan die Kaapkolonie. Daar was ingevolge die kolonie se nuwe grondwet, uitdruklik bepaal dat slegs Engels in die Parlement as taal gebruik sou word. Daar was egter onmiddellike verset vanuit Nederlandssprekendes hieroor. J.A. Kruger, die lid vir die Kiesafdeling Albert waarvan Burgersdorp deel was, het kort na hierdie besluit toestemming gevra om die Parlement in Nederlands toe te spreek. Die weiering van sy versoek was ‘n historiese gebeurtenis aangesien dit gesien kan word as die begin van ‘n veldtog om Nederlands as amptelike taal in die Kaapkolonie erken te kry.

Burgersdorp in Noordoos-Kaapland het  ‘n belangrike rol gespeel in die stryd om die erkenning van Nederlands as amptelike taal in die Kaapkolonie. Reeds al in 1890 was ‘n Taalkongres op hierdie dorp gehou terwyl die Taalbond in 1891 daar gestig is. Burgersdorp het dus die spilpunt geword van die taalveldtog om Nederlands as amptelike taal erken te kry. Hierdie inisiatief was gedryf deur die Zuid-Afrikaansche Boeren-Beschermingsvereniging (ZABB) van die distrik. In 1879 en 1881 is petisies in hierdie verband aan die Kaapse Parlement gerig, maar sonder enige sukses.

Die petisie van 9 Junie 1882 onder leiding van Onze Jan H. Hofmeyer (1854-1909), ‘n parlementslid, was egter suksesvol. Mnr. J.G. Luttig, die lid vir Beaufort-Wes was die eerste lid wat die Parlement in Nederlands toegespreek het. Hierdie stryd  het uiteindelik uitgeloop op die latere erkenning in 1925 van Afrikaans as amptelike taal toe Nederlands in die grondwet deur Afrikaans vervang is.

 

Onze Jan Hendrik Hofmeyer

 

Die ZABB se pogings om Nederlands as amptelike taal erken te kry, het ook sterk steun gekry vanaf die Teologiese Skool (1869-1904) van die Gereformeerde Kerk, onder ds. Cachet, wat op Burgersdorp geleë was. Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog is die stryd in die Kaapkolonie nie net gesien as ‘n stryd teen Britse imperialisme nie, maar ook ‘n poging om Afrikaner identiteit te onderdruk. Ten spyte hiervan het ‘n aantal studente aan die Teologiese Skool wat tydens die Slag van Stormberg by die Boere-ambulans aangesluit het, diens en bystand aan die vele Britse gewondes verleen. Die Britse owerheid het na die besetting van Burgersdorp op 12 Maart 1900, hulself op die Teologiese Skool gewreek deur dit te sluit. Sekere dosente, waar onder prof. Cachet, is selfs van verraad aangekla.

Studente van die Teologiese Skool kort voor die oorlog.

 

DIE OPRIGTING VAN ‘N MONUMENT VIR ‘N HISTORIESE GEBEURTENIS 

Die oorwinning om Nederlands as amptelike taal erken te kry was luisterryk gevier toe daar op 26/27 Junie 1882 ‘n groot fees op Burgersdorp gehou was. Tydens hierdie geleentheid was besluit om ‘n monument op Burgersdorp op te rig om hierdie groot historiese gebeurtenis in herinnering te roep. Danksy finansiële steun regoor Suid-Afrika is die monument op 18 Januarie 1893 deur Daantjie P. van den Heever, voorsitter van die Monumentkomitee, onthul. Ook teenwoordig was Hofmeyer  en S.J. du Toit, vader van die latere digter, Totius, asook verteenwoordigers uit die republieke van die Oranje-Vrijstaat en Zuid-Afrikaansche Republiek. 

Die onthulling van die Taalmonument op 18 Januarie 1883. Op die agtergrond wapper die vlae van die OVS en die ZAR

 

BESKRYWING VAN DIE MONUMENT

Die monument in die vorm van ‘n vroulike figuur geskep uit Carraramarmer personifiseer die Nederlandse moedertaal. Die beeld is in Italië gemaak en is opgerig deur S.R. Ogden van Aliwal-Noord teen ‘n koste van £430.0.0 (R860.00). Die vrou hou ‘n tablet vas waarop die woorde “VRYHEID VOOR DE HOLLANDSCHE TAAL” verskyn. Die lam en druiwetrosse aan haar voete het bekende nywerhede in Suid-Afrika, gesimboliseer. Die lam het ook die vreedsame wyse waarmee hierdie oorwinning behaal is, gesimboliseer.

Die Taalmonument

DIE AANSLAG OP DIE NEDERLANDSE TAAL – DIE VERNIETIGING VAN DIE TAALMONUMENT TYDENS DIE ANGLO-BOEREOORLOG

Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog het die Bethulie- en Smithfield-kommando’s, Burgersdorp beset. Verskeie Kaapse Rebelle uit hierdie distrik het by die twee kommando’s aangesluit.

President Steyn en sy kommandante kort voor die oorlog

‘n Paar maande na die Slag van Stormberg was die Vrystaatse kommando’s onder generaal Olivier verplig om oor die Oranjerivier terug te val nadat Britse versterkings in die Kaapkolonie aangekom het.  Britse magte het Burgersdorp hierna beset. Kort daarna het vandale die neus, wysvinger en tablet van die Taalmonument-beeld afgebreek.

Die Britse besetting van Burgersdorp op 12 Maart 1900

Nie lank na hierdie gebeure was die beeld deur Britse soldate vanaf sy granietvoetstuk gestoot en die arm en kop, wat waarskynlik afgebreek het, was verwyder. Na die oorlog het lord Milner die monument laat afbreek en in geheel verwyder.

Vandalisering van die Taalmonument in 1900.

Vandalisering meer as ‘n eeu later van die Burgermonument te Burgersdorp in 2017.

Die inwoners van Burgersdorp het egter geëis dat die Britse regering die beeld terug plaas en herstel. Dit is toegestaan, maar omdat die oorspronklike beeld intussen verdwyn is moes ‘n replika gemaak word wat op 24 Mei 1907 op Kerkplein onthul is. Tydens hierdie geleentheid het president M.T. Steyn as feesredenaar opgetree. Die beeld is in 1933 na die Markplein verskuif waar dit meer opsigtelik was.

In 1939 is die vermiste beeld by King William’s Town opgegrawe, maar steeds sonder die kop en arm. Die oorspronklike beeld is in 1957 naby die replika-beeld opgerig.

BRITSE ONDERSOEK NA DIE BESKADIGING VAN DIE BEELD OP 12 MAART 1900     

In Oktober 1900 het die Burgersdorp-gemeenskap by monde van D.P. van Heerden, die lid vir Venterstad, ‘n brief van protes aan die Kaapse Eerste-minister, W.P. Schreiner gerig insake die beskadiging van hierdie beeld.

Mr W.P. Schreiner, Q.C.

                    Cape Town

Sir, – I must inform you that the monument established at Burghersdorp by so many thousands of Afrikaners in honour of the Dutch language, was destroyed in a forcible manner on the day when Burghersdorp again fell  into possession of the troops by certain persons unknown to me. The hearts of the Afrikaners are oppressed (aaneengekrimpt) by this insult. The people will never rest if the matter is left  thus. Please, therefore, send immediately a competent private detective to trace the offenders…

Your servant  and friend

                                                                                D.P. van der Heever

 

Ook magistraat Gie van Burgersdorp het sy misnoë uitgespreek.

RE DAMAGING OF THE TAAL MONUMENT

Sir – herewith copies of the statements taken by me in the above matter. It happened the night of the day I arrived here, and when it was brought to my notice next morning, I immediately sent for Mr. Shorten the Mayor and expressed  to him my regret and disgust that such an act of vandalism had been perpetrated …

                                                                                Your obedient    Servant

                                                                                J.C. Gie, R.M.

Burgemeester James Shorten van Burgersdorp het in sy verklaring verwys na ‘n groep jongmans wat by die beeld versamel het die dag van die besetting. Hy het hulle gemaan om nie die beeld te beskadig “smashing it up” nie alhoewel hulle dit later met skoenpolitoer besmeer het. Die beeld is deur hom laat skoonmaak, alhoewel die neus, arm en ‘n gedeelte van die tablet drie dae later afgebreek is. Twee wagte, manskappe Van Buuren en Stevens, is volgens Shorten hierna aangestel om die beeld te bewaak, maar hulle was klaarblyklik meer behep met die veiligheid van die naby geleë Jubilee- en Albert Hotelle  as die beeld self.

Die Jubilee-Hotel in Burgersdorp vandag.

 

Volgens ‘n Sanitary Inspector, William Button, wat ‘n verklaring afgelê het oor die beskadiging van die beeld op 12 Maart 1900, het hy twee mans in burgerlike drag by die beeld gesien. Een het op die ander se rug gestaan terwyl die ander een die beeld met ‘n klip beskadig het. Button kon die twee mans wat klaarblyklik in die Jubilee Hotel tuisgegaan het, beskryf.

Volgens Robert Coney, mede-eienaar van die Jubilee Hotel, was daar vier vreemdelinge wat volgens Button se beskrywing moontlik van die vandale kon wees. Die groep het die aand toe die vandalisme plaasgevind het, in die hotel tuisgegaan. Hierdie groep  was oppad om by die Brabant’s Horse aan te sluit.

Magistraat Gie van Burgersdorp het selfs op 13 Junie 1900, in opdrag van die Secretary, Law Department in Kaapstad, ‘n beloning van £50.0.0 (vyftig pond)  aangebied vir inligting wat sou lei tot arrestasie en skuldigbevinding. Dit was selfs so in die plaaslike Albert Times koerant aangebring. Die skuldiges is egter nooit opgespoor nie.

Die kommissie vir die restourasie van die Taalmonument, Burgersdorp, 1958.

Die viering van ‘n eeu se taalregte.

 

 

Die Afrikaanse Taalmonument te Paarl wat in 1975 onthul is, was opgerig tussen 1972-1974 teen ‘n koste van R 700 000.00.

 

DIE ANGLO-BOEREOORLOG IN DIE AFRIKAANSE WOORDESKAT 1899-1902 

Anglo-Boereoorlog:

‘n Oorlog wat tussen 1899-1902 in Suid-Afrika tussen Groot-Brittanje aan die een kant en die twee Boererepublieke (Oranje-Vrijstaat – OVS en die Zuid-Afrikaansche Republiek – ZAR) gewoed het. Ander name van die oorlog: Tweede-Vryheidsoorlog, Engelse-oorlog, Transvaalse-oorlog en Suid-Afrikaanse-oorlog.  Die woord “Anglo” verwys na die Britte (Anglo Saksers) en sluit ook al hul bondgenote in wat saam met hulle aan die oorlog deelgeneem het terwyl die woord Boer verwys na die twee Boererepublieke. Die oorlog is hoofsaaklik gevoer weens die mineralerykdom in Suid-Afrika en die Britte wat hul oppergesag in Suid-Afrika wou vestig.

Bywoner:

‘n Persoon sonder eiendomsreg wat woonagtig was op ‘n plaas as huurling.

Transvaal:

Die Zuid-Afrikaansche Republiek, later bekend as die Transvaal, vandag Gauteng, Mpumalanga, Limpopo en Noordwes, vorm vandag deel van die ou Transvaal wat ‘n republiek was met ‘n eie Volksraad en Staatspresident.

Volksraad:

Die Parlement van ‘n republiek wat bestaan uit verkose verteenwoordigers van die volk.

Kaapkolonie:

‘n Britse kolonie, later bekend as die Kaapprovinsie wat vandag bestaan uit die Wes-Kaap, Oos-Kaap en Noord-Kaap.

Engelse:

Die Britse nasie wat in 1899 opgemaak was uit Engeland, Skotland, Wallis en Ierland.

Burger:

‘n Manlike burgerlike van die ZAR of OVS wat ook op kommando was

Penkop:

‘n Boereseun van 15 en jonger wat die wapen teen Groot-Brittanje opgeneem het en saam op kommando was..

Skermutseling:

‘n Kortstondige geveg.

Rapportryer:

‘n Burger wat boodskappe in opdrag, dikwels deur vyandige lyne, aan ander Boere bevelvoerders moes besorg.

Verkenner:

‘n Burger wat verkenningswerk van ‘n bepaalde gebied of ‘n vyandelike gebied uitgevoer het.

Uitlander:

‘n Buitelander sonder burgerskap woonagtig in die Zuid-Afrikaansche Republiek.

Beleg:

‘n Dorp of stad wat weerstand bied teen ‘n vyandelike mag wat poog om dit in te neem.

Brandwag:

‘n Benaming vir ‘n burger wat wagdiens moes verrig tydens die afsaal deur ‘n kommando.

Lidiet:

‘n Geelkleurige plofstof waarmee britse projektiele gevul was.

Saalsak:

‘n Sak wat aan die perdesaal gehang het waarin hoofsaaklik kosvoorraad en persoonlike items gehou is.

Sarie Marais:

‘n Bekende liedjie wat oor die oorlog handel en deur die Boere gesing is.

Mauser:

‘n Vuurwapen van Duitse fabrikaat wat gedurende die oorlog deur die Boere gebruik is.

Bandelier:

‘n Band met ammunisie daarin wat gewoonlik aan die bolyf gedra is.

Skote Petoors!

‘n Artilleris, Lood Pretorius, wat met sy kanon baie akkuraat kon skiet tydens die beleg van Ladysmith.

Long Tom:

Een van vier groot kanonne wat deur die Boere teen die Britte gebruik is en wat deur die Britte gevrees is.

Mossies:

Suid-Afrikaanse voëlspesie wat op ‘n 1c muntstuk verskyn het na aanleiding van oorlewering wat in die Bethulie konsentrasiekamp afgespeel het.

Pom-Pom:

‘n Ligte snelvuurkanon wat veral deur die Boere gebruik is en wat vernoem is na die pom-pom geluid wat die kanon gemaak het.

Joiner:

‘n Burger wat by die Britte aangesluit het en teen sy eie mense geveg het. Hy was ook bekend as ‘n Hans-Khaki.

Bittereinder:

‘n Burger wat tot die einde van die oorlog teen die Britte geveg het.

Nasionale Vrouemonument:

‘n Monument uit 1913 in Bloemfontein wat hulde bring aan die vroue en kinders wat tydens die Anglo-Boereoorlog in konsentrasiekampe oorlede is.

Treinvernieler:

‘n Toestel wat die Boere gebruik het om die spoorlyne mee op te blaas ten einde Britse treinverkeer te ontwrig.

Agterryer:

‘n Swart- of kleurlingman wat saam met die Boeremagte op kommando was as helper en ondersteuner.

Hensopper:

‘n Burger op kommando wat nie verder wou veg nie en ‘n Eed van Neutraliteit geteken het.

Oranje-Vrystaat:

Die Republiek van die Oranje Vrystaat, vandag die Vrystaat, was ‘n onafhanklike republiek voor 1902 met ‘n eie Volksraad en Staatspresident.

 Ou Rooiversbul

Bynaam spottenderwys gegee aan die Britse Generaal Buller deur die Boere.

Ongewenstes:

Burgerlikes, mans en vroue, hoofsaaklik van die Kaapkolonie, wat verban is omdat hulle in die publiek uitgesproke was teenoor die Britse oorlogspoging en daarom gesien is as dislojaal.

Stormjaer of Potperd:

‘n Vetkoekie wat deur die burgers op kommando gemaak is.

Konsentrasiekamp:

‘n Kamp wat deur die Britte opgerig is en waarheen hoofsaaklik wit en swart vroue en kinders teen hul sin gestuur is. Hier het swaarkry soos honger, koue, siektes en uiteindelik die dood hoogty gevier.

Rantsoenkaartjie:

‘n Kaartjie waarvolgens ‘n beperkte hoeveelheid kos aan die houer daarvan uitgereik is.

Kappie:

‘n Hoed van lap wat deur vroue en dogters gedra is om hulle teen die son te beskerm.

Klinker:

‘n Harde rantsoenbeskuitjie wat aanvanklik aan Britse troepe, maar ook later aan burgerlikes in kampe, uitgedeel is.

Veldkornet:

‘n Burger met die rang van ‘n offisier (luitenant) wat deel was van ‘n kommando.

Kommandant:

Die bevelvoerder van ‘n kommando.

Tommie:

‘n Britse soldaat wat in die oorlog geveg het en as “Tommy Atkins” onder die Britte bekend was.

Kosmos:

‘n Plant met ‘n hoofsaaklike pienk-kleurige blom wat saam met die Britse perdevoer ingevoer is.

Khakie:

‘n Britse soldaat na wie die Boere as sodanig verwys het weens sy khaki kleurige uniform.

Rooinek:

Omdat die Britse soldate se nekke baie gou rooi in die Afrika son gebrand het, het hul die bynaam van Rooinekke gekry.

Dryfjag:

Groot groepe soldate wat aangewend was om ‘n gebied te deurkruis in ‘n poging om die Boerekommando’s vas te trek.

Blokhuis:

‘n Reeks Britse forte wat in ‘n lyn opgerig is om aanvanklik strategiese instellings soos die spoorlyne teen sabotasie deur die Boere te beskerm, maar later uitgebrei is.

Verskroeide aarde:

‘n Beleid wat deur die Britte toegepas is waarvolgens alle plase, diere, gewasse, kos en selfs ook dorpe vernietig is.

Hoefangels:

Driepuntige, skerpgemaakte penne wat om blokhuise gestrooi is sodat die Boere se perde daarin kon trap.

Khakibos:

‘n Khaki kleurige plant met ‘n sterk reuk. Hul saad was tydens die oorlog tussen die perdevoer wat die Britte vr hul perde ingevoer het.

Heliograaf:

‘n Kommunikasietoestel met ‘n spieël wat deur vegtendes gebruik is om boodskappe (seine) oor lang afstande aan mekaar te stuur deur middel van sonligweerkaatsings.

Dum-Dum:

‘n Patroon of koeël met ‘n gaatjie aan die voorpunt. Hierdie patroon het by impak op die burger/soldaat se lyf oopgebars en ‘n lelike wond veroorsaak. Hierdie soort patroon was teen beskaafde oorlogvoering.

Slangdosie:

‘n Houtboksie met ‘n dekseltjie waaruit ‘n slangetjie met ‘n skerp naald aan die punt van sy bek uitgespring het as die deksel oopgeskuif is.

Krygsgevangenekamp:

‘n Kamp waar soldate of burgers wat gevang was, aangehou is.

Loopgrawe:

‘n Lang sloot of groep slote, soos by Magersfonteim, waarin die burgers stelling ingeneem het en die Britte ingewag het.

Kommando:

‘n Groep vegtende burgers, gewoonlik uit ‘n bepaalde distrik, wat onder bevel was van veldkornette met ‘n kommandant as hoof.

Kaapse Rebelle:

Afrikaanssprekende Britse onderdane in die Kaapkolonie wat die wapen teen die Britte saam met hul mede-Afrikaners in die republieke opgeneem het.

Bergskotte:

‘n Benaming vir Boere wat in die berge weggekruip het toe hulle nie meer perde gehad het nie.

Vrede van Vereeniging:

Die vrede tussen Boer en Brit wat op 31 Mei 1902 te Melrose House, Pretoria, onderteken is nadat samesprekings vooraf eers by Vereeniging plaasgevind het om ‘n einde aan die oorlog te maak.

Posted: 2025-05-07 12:49:40