DIE MOONTLIKE LANGTERMYN INVLOED VAN DIE ANGLO-BOEREOORLOG OP KONSENTRASIEKAMP-KINDERS

DIE MOONTLIKE LANGTERMYN INVLOED VAN DIE ANGLO-BOEREOORLOG OP KONSENTRASIEKAMP-KINDERS

Samevatting

Die Anglo-Boereoorlog, wat tussen Oktober 1899 en Mei 1902 afgespeel het, verskil van tydgenootlike oorloë deurdat derduisende kinders direk by die oorlog betrokke was – enersyds aktief en vrywillig as Penkoppe (jong seuns wat aan die oorlog deelgeneem het) – andersyds minder vrywillig as inwoners van die konsentrasiekampe. Kinders verskil van volwassenes deurdat hulle nog ontwikkelend is. Hulle beskik gevolglik nie oor dieselfde hanterings- en beskermingsmeganismes as volwassenes nie. Indien daar dus nie aan hulle basiese behoeftes voldoen word nie, kan dit tot gevolg hê dat hulle ontwikkeling hierdeur geraak word. Dit kan in langtermyn gevolge manifesteer.

Hoë sterftesyfers, die verlies aan tuiste en speelgoed, die tydelike skeiding van vaders en dikwels permanente verlies van geliefdes, kan op kinders wat nie oor die nodige hanteringsmeganismes beskik nie, ‘n groot invloed hê. Vir normale ontwikkeling om te kan plaasvind, moet kinders sekere ontwikkelingstake in spesifieke venstersperiodes afhandel. Indien dit nie gebeur nie, kan dit lewenslange gevolge hê.

Wanneer kinders nie toegang tot voldoende voedsel het nie, kan dit hulle ontwikkeling eweneens op die langtermyn beïnvloed. Die eerste duisend dae (vanaf konsepsie tot met tweejarige ouderdom) is ‘n kritiese tydperk wat ontwikkeling aanbetref. Wanvoeding tot op die ouderdom van vyf kan egter steeds ‘n groot invloed op kinders se ontwikkeling hê. Vir optimale ontwikkeling om te kan plaasvind, is basiese voedingstowwe egter nodig. Indien dit nie ingeneem word nie, ontwikkel gebreke. Alhoewel die impak van bogemelde in sommige gevalle omkeerbaar is wanneer die omstandighede verbeter, is dit nie altyd die geval nie. Dit mag dus ‘n blywende invloed hê. Die moontlike langtermyn gevolge van die Anglo-Boereoorlog op kinders word hier kortliks bespreek.

Download Document